Vind ons

Ons is geleë op die hoek van Atterbury en Ajax straat, Olympus in Pretoria Oos.

Krdinate: -25.8143989, 28.3370161

 

Dienstye

Sondae oggende: 09:00,  Sondae aande: 18:00

16 Desember: Geloftediens 08:00

25 Desember: Kersdiens 08:00

31 Desember: Oujaarsdiens 18:00

Geen aanddienste 15, 22 en 29 Desember

EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag
Teksvers: Psalm 139:4 “Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.”

Persone wat nie ons huisgesin van naby ken nie, kan soms verwonderd en amusant luister wanneer een persoon iets vertel en skielik huiwer, dan voltooi sy/haar lewensmaat of selfs ’n boetie of sussie dié sin en vertelling. Doen u dieselfde? Welkom in die gesin.

Daar is wel troos en gerusstelling in die woorde van die Psalmis, dat God weet wat u wil vra of sê: “Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.” Soms, wanneer ek oor ’n ernstige saak bid, vind ek dit moeilik om die regte woorde te vind, maar Sy Woord bevestig dat Hy presies weet wat ek wil vra. Dikwels kan ’n klein kindjie nog nie mooi woorde praat nie, maar dan wys hy met sy vingertjie na die lekkerny wat hy wil hê en Mamma gee dit vir hom. Sy weet presies wat hy wou sê of vra. Hebreërs 4:16 “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”

Slegs wanneer gesinne in noue voeling, in ’n noue verhouding, saam lewe, het hulle vrymoedigheid om sommer die ander een se sin te voltooi, veral wanneer dié persoon na die regte woorde soek.

’n Noue verhouding met Jesus bring die stille rus en vertroue dat Hy weet wat ek wil vra, al kom my woorde nie mooi uit na buite nie. Hy weet wat dit is wat ek sukkel om te sê wanneer ek met Hom praat. Hy het ons lief en ken ons goed genoeg om ons te verstaan.

God kyk by ons woorde verby na ons harte.

Seëninge.
(geskryf deur Yvonne Slabber)
EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag
Teksvers: Deuteronomium 8:10 “en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.”

Iemand wat ’n tyd gelede teruggekeer het uit Australië het vertel dat, omdat vele dorpe op die hoofweë baie vêr van mekaar geleë is, is daar op die hoofweë banke en tafeltjies in die koelte geplaas en waar persone in welwillendheid ’n koffie of verversings-stalletjie aanbied om moeë reisigers te help. Die kennisgewingbord meld ook van “gratis koffie” maar die kleiner skrif dui aan: “Die bestuurder ontvang gratis koffie, passasiers moet betaal.” Talle bestuurders lees nie die volle skrywe op die borde nie en is dan onthuts omdat van die passasiers verwag word om ’n fooi te betaal.

Toe Moses die Israeliete na die beloofde land gelei het, het hy by hulle aangedring om dankbaar te wees (Deuteronomium 8:10). Deur God se ryke seëning het die land aan hulle oorvloed gebied. Hulle kon wel hierdie voorspoed hanteer asof hulle dit verdien het. Deuteronomium 8:17&18 “en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe. Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.”

Die reisigers wat uit Australië teruggekeer het, het vertel van talle bestuurders wat nogal ’n bohaai opgeskop het omdat hy/sy metgesel nie ook gratis koffie ontvang het nie – ’n voorreg (geskenk) het nou ’n reg geword.

Indien u op ’n dag ’n notaboek sou neem en elke klein en groot seën, voorreg en geskenk wat God in dié dag aan u skenk, neerpen, sal u verseker dié aand in aanbidding voor die troon van genade deurbring en eer en lof aan Hom toebring vir Sy onverdiende geskenke aan ons. Ek het dit probeer neerskryf en ’n lang lys neergepen, na slegs ’n enkele voormiddag!

Mag u en ek NOOIT ondankbaar wees oor dit wat ons deur Sy krag en genade het nie, dan sal ons NIE murmureer oor wat ons “meen” ons nie het nie.

Maak vandag ’n “dankie sê” dag tot eer van God en u siel sal daardeur verryk word.

Seëninge.
(geskryf deur Yvonne Slabber)