Vind ons

Ons is geleë op die hoek van Atterbury en Ajax straat, Olympus in Pretoria Oos.

Krdinate: -25.8143989, 28.3370161

Dienstye

Sondae oggende: 09:00,  Sondae aande: 18:00

Spesiale dienste:

Goeie Vrydag: 08:00

16 Desember: Geloftediens 08:00

25 Desember: Kersdiens 08:00

31 Desember: Oujaarsdiens 18:00

EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag.

Teksvers: Johannes 14:13 “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.”

Nie alle kinders van God het al geleer om in die Naam van Christus te bid nie. Nie alleen om Sy ontwil nie, maar om in Sy Naam te bid soos Hy beveel het – dit is ’n verhewe en geseënde vorm van gebed. Wanneer iemand in die Naam van Jesus bid, sal hy nie sommer vir enige ding bid nie, hy sal versigtig en slegs binne God se wil bid.

Wanneer ons tot die troon van genade gaan en in die Naam van Jesus bid, sal ons verseker verhoor word, indien ons gebed God behaag en eer. Dit verheerlik Sy waarheid, Sy getrouheid en Sy mag en genade. Spurgeon het gesê: “Die verhoring van die gebed, as dit in die Naam van Jesus tot Hom gebid word, openbaar die liefde van die Vader vir Hom (Jesus) en die eer waarmee Hy Hom gekroon het.”

Die eer van Jesus en die Vader is só inmekaar geweef dat die genade wat die Een verheerlik ook die Ander groot maak.

Ons moet nooit ophou om in geloof in Sy krag, tot Sy troon te nader en in Sy Naam te bid met smeking en lofsang, nie.

Mag die Heilige Gees ons gedurig lei en herinner om in die Naam van Jesus en die Vader te bid – dit verbly ook die hart van die Vader.

Seëninge.
(Geskryf deur Yvonne Slabber)
EG Kerk Pretoria Oos
EG Kerk Pretoria Oos
Gedagte vir die dag.

Teksvers: Lukas 18:1 “En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.”

Moontlik beleef jy ’n tydperk wat lyk asof elke poging om ’n sekere probleem op te los, gepaard gaan met ’n nuwe probleem. Jy dank die Here saans dat die probleem opgelos is, net om wakker te word en te vind dat iets anders verkeerd geloop het en dat die probleem steeds bestaan.

Wanneer ons die Evangelie van Lukas lees, verstom dit ons wanneer ons in ons openings teksvers lees: “En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie.” Dan volg die verhaal van ’n regter in ’n stad wat God nie gevrees het en geen mens ontsien het nie. Met ander woorde hierdie regter was ongevoelig en ook blykbaar ’n regter wat geen genade aan mense bewys het nie. Dan kom ’n desperate weduwee en sy klop, smeek, bid, pleit by hom om aan haar reg te laat geskied. Jesus sê nie duidelik wat haar probleem was nie, maar wel dat haar nood haar gedryf het om hierdie regter nie net lastig te val nie, maar sy het hom teen die mure uitgedryf want sy het nie “nee” as ’n antwoord aanvaar nie. Die regter se uiteindelik (my eie woorde): “Gee asseblief vir hierdie vrou alles was sy vra want ek kan haar geroep en pleidooi net nie meer aanhoor nie.” Hierdie weduwee was hardkoppig. Ek het self, toe ek hierdie gedeelte in die verlede gelees het, nooit besef dat die aanvangs woorde (die vers hierbo) die sleutel tot die gelykenis is nie. Die les: “Bid sonder om moedeloos te word.”

Gebed is nie ’n manier om God te dwing om ons wil uit te voer nie, maar ’n wyse om erkenning aan Sy krag en plan vir ons lewe te gee. Wanneer ons bid gee ons ons lewensomstandighede, die probleme, die dinge wat vir ons te groot en onmoontlik blyk te wees, aan die Here oor. Ons vertrou alles aan Hom toe en ons glo en vertrou op Hom om te werk en op te tree op Sy tyd en Sy manier.

As ons op God se genade staatmaak, nie net vir die uitkoms van ons gebede nie, maar ook vir die wyse waarop die antwoord kom, kan ons aanhou om Hom in gebed te nader, met vertroue op Sy wysheid en sorg vir ons.

Ons Here se bemoediging aan ons is duidelik: “Hou aan bid sonder om moedeloos te word!”

Gebed verander alles.

Seëninge.
(Geskryf deur Yvonne Slabber)